Die tiende jaarlikse Diaz Strand Hotel Summer Sun Festival het wel ‘n tema van maskers, maar as dit kom by die vele kompetisies en gebeurtenise op die oord hierdie Desember, is die ontmaskering van hope somer pret vir seker op die kaarte. Soos in die verlede is die program volgestop met die wonderlikste vermaak en kompetisies vir die hele gesin en vir die dekade vieringe van hierdie fees gaan alles daardie bietjie ekstra sprankel hê. Die skoonheidskompetisies is elke jaar ‘n groot trekpleister en onder die waaksame en ervare leiding van Joani Johnson (Mev SA 2009) kan vakansiegangers en deelnemers produksies van die hoogste gehalte verwag.
Mej Diaz – ‘n kroon wat deure oopmaak
Om Mej Diaz deur Ripcurl gekroon te word, is een van die mees gesogte skoonheidstitels in Suid-Afrika as jy ‘n ogie het op ‘n groter kroon, die van Mej Suid-Afrika, Mej Aarde of selfs om as internasionale model die loopplanke van die wêreld te betree. Danicka Rhiel (Mej Diaz 2009) en Careen Truter (Mej Diaz 2008) is beide finaliste in die volgende Mej Suid-Afrika kompetisie. Mej Diaz 2011 kwalifiseer onmiddellik vir die onderhoud rondtes van Mej SA.
Op Vrydag, 23 Desember word die semifinale uitdunne van hierdie kompetisie op die buiteverhoog van die Diaz Strand Hotel gehou. Registrasie begin reeds 11h00 en kos R40. Deelnemers gaan twee keer op die loopplank verskyn, een keer in swemdrag en die ander in ‘n somer rokkie. Die finale word op 26 Desember gehou in die Pero Diaz teater in die hotel en beloof om ‘n onvergeetlike geleentheid te wees. Die aand gaan behoorlik ‘n sterbelaaide fees wees met Dieter Voigt (Mnr SA en Pasella Aanbieder), Annette Kasselman (Mev SA 2005), Joani Johnson (Mev SA 2009) en ‘n paar Bulle terwyl gaskunstenaars Dozi en Jannie Moolman maanlig serenades vir die 12 skoonhede en die gehoor gaan sing. As die finaliste nie jou knieë lam het nie, dan gaan hulle meesleurende melodieë dit vir seker doen.
Mej Bikini – rock daai lyfie
Billabong en Roxy borg onderskeidelik die twee Mej Bikini kompetisies. Mej Billabong Bikini vind plaas op Woensdag, 28 Desember. Die finaliste sal elk wegstap met ‘n pragtige bikini en ook ‘n fotosessie vir die gesogte klere-reeks doen. Mej Roxy Bikini se wenners sal wegstap met pragtige bikini’s en pryse van die Roxy klere-reeks. Mej Roxy Bikini vind plaas op 30 Desember by die buiteverhoog van Diaz Strand.
Op 18 Desember is dit die beurt van die kleinspan met Mnr en Mej Sandkorreltjie (4-8jaar) en op 20 Desember vat Mnr & Mej Junior Diaz (9-12jaar) die verhoog. Op 2 Januarie is dit die beurt van die Diaz Babakompetisie (0-3jaar). Vir die eerste keer hierdie jaar bied Diaz Strand Hotel ook ‘n Mev Diaz aan vir getroude vrouens (21-50jaar). Die wenner van Mev Diaz sal outomaties kwalifieseer as ‘n semi-finalis in die Mev SA kompetisie en ook met heerlike pryse wegstap. Tieners kan hulle regmaak vir Mej Tiener (13-16jaar) op 22 Desember op die buiteverhoog van die hotel. Vir die manne wat hulleself sien as “too-hot-to-handle” is daar Mnr Hunk (17-27jaar) wat op 27 Desember plaasvind.
Propvol pryse, propvol skoonhede, stampvol vermaak. En as jy gedink het die skoonheidskompetisies is ‘n mondvol, gaan kyk ‘n bietjie na die hele feesprogram by www.diazbeach.com, besoek die Summer Sun Festival se Facebook blad of kontak Joani Johnson 072 620 4127 vir meer inligting. Die somer is hier. Waar is jy?
